HOEKOM IS HANDELSMERKBESKERMING BELANGRIK?
Wat is die waarde van handelsmerkbeskerming? Moet ek my besigheid se handelsmerk beskerm? Hierdie is algemene vrae wat op ‘n daaglikse basis oor besin. Die kort antwoord is: handelsmerkbeskerming het groot waarde en ja, jy moet jou handelsmerk beskerm. Maar hoekom?
Wat is ‘n handelsmerk?
Dit is eerstens belangrik om te verstaan wat ‘n handelsmerk is. Die Wet op Handelsmerke, 194 van 1993 omskryf ‘n “handelsmerk” as ‘n merk wat gebruik word deur ‘n persoon om sy goedere en / of dienste van dieselfde soort goedere en / of dienste van ‘n ander in die handel te onderskei. ‘n “Merk” word weer omskryf as enige teken wat grafies voorgestel kan word, en ook ‘n devies, naam, handtekening, woord, letter, syfer, vorm, fatsoen, patroon, versiering, kleur of houer vir goedere insluit.
Wat maak ‘n goeie handelsmerk?
Die funksie van ‘n handelsmerk is om produkte en dienste van verskillende besighede van mekaar te onderskei. Dit spreek dus vanself dat vir ‘n merk om as handelsmerk te kwalifiseer dit onderskeidend van aard moet wees en nie beskrywend van die produk of diens nie. Die beste handelsmerke is dus daardie merke wat geskep is, bestaan uit versinde woorde en dus niks beteken nie, soos byvoorbeeld GOOGLE, MIKACOTE, EBAY. Die geskepte woord word geheel-en-al met die produk of diens geassosieer. Indien beskrywende of selfs ophemelende woorde op ‘n vernuftige wyse saamgestel word en nie per se die aard van die produk of diens beskryf nie, mag dit moontlik as handelsmerk kwalifiseer.
Bied ‘n maatskappy registrasie genoegsame beskerming vir ‘n handelsmerk?
Ongelukkig nie. Die registrasie van ‘n maatskappy bied aan die besigheidseienaar die reg om die naam as maatskappynaam te gebruik, maar bied nie handelsmerkbeskerming nie. Die maatskappye register en die handelsmerke register is twee aparte registers en word nie met mekaar vergelyk nie. Die moontlikheid kan dus bestaan dat ‘n maatskappynaam beskikbaar is op die maatskappye register, maar dieselfde naam nie as handelsmerk gebruik kan word nie en vice versa. Indien ‘n maatskappynaam wel aan al die vereistes van ‘n handelsmerk voldoen en beskikbaar op die handelsmerke register is, kan dit ook as ‘n handelsmerk geregistreer word.
Moet ‘n besigheid sy handelsmerk beskerm?
Die antwoord is beslis. Besighede neem verskeie stappe ten einde hulle belangrikste bates te beskerm soos om versekering uit te neem en sekuriteitstelsels te installeer. Verder spandeer besighede baie tyd en geld om ‘n handelsnaam te skep en te bemark. Hoekom dit dan nie beskerm nie? ‘n Handelsmerk is ‘n waardevolle bate vir enige besigheid en deur ‘n handelsmerk te registreer is ‘n belangrike stap vir ‘n besigheid om te neem ten einde dié bate te beskerm.
Wat is die doel van handelsmerkbeskerming?
‘n Handelsmerkregistrasie bied aan die eienaar daarvan die reg om ander besighede te verhoed om die identiese of verwarrend ooreenstemmende handelsmerke te gebruik ten opsigte van dieselfde of soortgelyke goedere en / of dienste. Dit bied eksklusiwiteit. Die handelsmerkeienaar se eksklusiewe regte sal onbepaald voortduur vir so lank as wat die handelsmerk elke 10 jaar hernu word en die hernuwingsfooie betaal word.
In alle regsgedinge met betrekking tot ‘n geregistreerde handelsmerk is die feit dat iemand as eienaar van die handelsmerk geregistreer is prima facie bewys van die geldigheid van die oorspronklike registrasie van die handelsmerk.
Indien ‘n ongemagtigde derde party inbreuk maak op die geregistreerde handelsmerk bied die Wet op Handelsmerke, 194 van 1993 sekere remedies wat die eienaar daarvan teen derde partye kan afdwing.
Verder hou ‘n handelsmerk ekonomiese waarde vir ‘n besigheid in. Dit is ‘n waardevolle bate vir enige besigheid en kan verkoop of gelisensieer word of selfs as sekuriteit dien. Verder kan die registrasie van ‘n handelsmerk die waarde van ‘n besigheid verhoog, veral die klandisiewaarde. Die waarde van ‘n handelsmerk word in ag geneem wanneer die waarde van ‘n besigheid bepaal word.
Hoe beskerm ‘n besigheid dan sy handelsmerk?
Die beste manier vir ‘n besigheid om sy handelsmerk te beskerm is deur dit by die Handelsmerke kantoor te registreer.
Hoe bepaal ‘n besigheid of die voorgenome handelsmerk beskikbaar is vir registrasie en gebruik?
Dit word aanbeveel dat alvorens ‘n handelsmerkaansoek by die Handelsmerke kantoor ingedien word ‘n volledige nasoek op die handelsmerke register uitgevoer word ten einde te bepaal of die identiese en / of verwarrend ooreenstemmende merke nie reeds op register verskyn nie.
Wanneer gebruik mens die TM en ® simbole?
Sodra ‘n merk as handelsmerk gebruik word kan die TM teken tot die merk gevoeg word ten einde ander besighede kennis te gee dat die merk as handelsmerk dien. Sodra die merk by die Handelsmerke kantoor geregistreer is kan die ® teken tot die merk gevoeg word. Let wel dat dit ‘n misdryf is om valslik aan te dui dat ‘n handelsmerk geregistreer is.
Artikel geskryf deur:
Gerda Bouwer (Direkteur van OAK LAW: Hoof van Intellektuele Goedere)
info@oaklaw.co.za / 012 345 3761