Transportbesorging het hoofsaaklik te doen met die oordrag van onroerende eiendom en die beswaring van onroerende eiendom met verbande. Transporbesorging sluit ook verskeie ander handelings in wat te doen het met onroerende eiendom soos byvoorbeeld die onderverdeling van grond en die opening van deeltitelskemas op grond. Suid Afrika het ‘n baie standvastige grond registrasie stelsel en die verskeie akte kantore landwyd hanteer die registrasie van alle transaksies wat betrekking het op onroerende eiendom en hou rekords van alle transaksies wat aangegeaan word. Alle eiendoms transaksies en transaksies wat verband hou met onroerende eiendom word in die relevante aktekantoor geregistreer.
Wie is die transportbesorger?
‘n Transportbesorger is ‘n toegelate prokureur wie ‘n verdere kwalifikasie bekom het in transportbesorging. Elke aktekantoor hou ‘n databasis van transportbesorgers wat in daardie spesifieke aktekantoor of gebied mag praktiseer.
Wie stel die transportbesorger aan?
Dit is gewoonlik die verkoper van onroerende eiendom se reg en keuse om die transportbesorger aan te stel. Die koper betaal egter die oordrag kostes. Dit is normaalweg slegs die verkoper, in terme van die aktes wet sowel as die gemene reg, wat die oordrag van die eiendom kan laat geskied, daarom stel die verkoper sy verteenwoordiger (Transportbesorger) aan om die eiendom oor te dra. Dit is ook algemeen aanvaarbaar dat die grootste risiko by die oordrag van onroerende eiendom aan die kant van die verkoper is, die verkoper hou die bate en indien die transaksie vertraag word kan die verkoper skade lei, daarom is dit belangrik dat die verkoper ‘n transportbesorger van sy keuse aanstel.
Hoe verloop die transportbesorging proses waar onroerende eiendom verkoop word?
Die proses begin altyd aanvanklik met ‘n verkoper wat sy eiendom in die mark sit om te verkoop. ‘n Potensiele koper sal dan na die eiendom gaan kyk en die agent of die verkoper nader om ‘n aanbod om te koop te maak vir die eiendom. Nadat die aanbod deur die verkoper aanvaar is word ‘n formele koopkontrak voorberei vir ondertekening deur beide partye, waarna die koopkontrak gestuur word aan die verkose transportbesorger om die proses te begin. ‘n Baie belangrike voorwaarde waarop ooreengekom moet word is die koopprys en hoe die koopprys betaalbaar is, indien die koopprys betaalbaar is in kontant moet die kontant binne ‘n sekere tydperk betaal word of verseker word by wyse van ‘n waarborg. Indien die koper aansoek gaan doen om finansiering moet die voorwaarde ook duidelik uiteengesit word met ‘n tydperk daaraan gekoppel. Sodra die koopprys verseker is kan die transportbesorger verder voortgaan met die proses. Die transportbesorger gaan dan voort om die bank te nader indien die eiendom met ‘n verband beswaar is om die aflos syfer of kansellasie syfer te bekom sowel as die oorspronklike transport akte. Indien die eiendom nie met ‘n verband beswaar is nie sal die oorspronklike transportakte gewoonlik in die besit van die verkoper wees. Indien die koper finansiering bekom het om die eiendom te koop sal die bank ‘n prokureur aanstel om die verband namens die bank te registreer. Die transportbesorger moet seker maak dat die nodige uitklaring sertifikaat by die plaaslike owerheid en die heffing sertifikaat by die bestuurs agente van die regspersoon en/of huiseienaars vereniging bekom word om seker te maak die verkoper se betalings aan die instansies is op datum. Die koper betaal hereregte aan die ontvanger van inkomste, indien van toepassing en die transport besorger moet bewys hiervan indien by die aktekantoor. Al die nodige oordrag dokumentasie sal deur die transportbesorger opgestel word vir ondertekening deur die koper en verkoper. Die verkoper sal dan vir die transportbesorger volmag gee om namens die verkoper in die aktekantoor voor die registrateur van aktes te verskyn en die eiendom oor te dra aan die koper, op dag van registrasie.
Wat is die titelakte/transportakte?
Die transportakte dien as bewys van eienaarskap van onroerende eiendom. Eiendomsreg word oorgedra van een persoon na ‘n ander by wyse van ‘n transportakte. Wanneer ‘n koper ‘n eiendom koop en finansiering bekom by ‘n bank of finansiele instelling, sal die bank of finansiele instelling versoek dat die oorspronklike transportakte na die bank of finansiele instelling gestuur word op datum van registrasie, dit dien dan as sekuriteit vir die bank of finansiele instelling wie die finansiering aan die koper toegestaan het. Sodra die koper die finansierings bedrag afgelos het sal die bank die verband kanselleer en die transportakte vir die koper stuur.
Wat is die oordrag kostes?
Die oordag kostes bestaan gewoonlik uit die fooi wat aan die transportbesorger betaalbaar is, die hereregte wat aan die ontvanger van inkomste betaalbaar is en indien die koper ‘n verband registreer oor die eiendom sal die verband prokureur ook ‘n rekening lewer vir registrasie van die verband. Hereregte is betaalbaar op die koop van onroerende eiendom deur die koper aan die ontvanger van inkomste. Die Wet op Hereregte het ten doel om inkomste vir die staatskas te genereer uit transaksies wat met onroerende eiendom te doen het. Tans is hereregte vrygestel vir die aankoop van ‘n eiendom met ‘n waarde van R1miljoen of minder. Daarna word hereregte bereken op ‘n glyskaal en is betaalbaar deur die koper.
Artikel geskryf deur:
Henry Durrheim (Direkteur van OAK LAW: Transportbesorging)
info@oaklaw.co.za / 012 345 3761