WAAROM IS DIT BELANGRIK OM JOU AANDEELHOUERSOOREENKOMS EN MAATSKAPPY MEMORANDUM VAN INKORPORASIE MET MEKAAR, EN MET DIE MAATSKAPPYEWET, TE BELYN?
Dit gebeur gereeld dat aandeelhouers in ʼn maatskappy met mekaar ooreenkomste aangaan rakende sekere sake van die maatskappy. In die algemeen word hierdie ooreenkomste na verwys as aandeelhouersooreenkomste, en poog aandeelhouers om belangrike maatskappy sake by wyse daarvan te reguleer. Hierdie sake sluit bv. in minderheidsbeskerming, die samestelling van die maatskappy se direksie, die bestuur van aandeelhouer of direksie vergaderings, ens.
Aandeelhouersooreenkomste is in die algemeen geoorloof, mits die terme daarvan konsekwent is met die terme van die Maatskappyewet en die maatskappy se Memorandum van Inkorporasie (“MvI”). Per artikel 15(7) van die Maatskappyewet is enige bepaling van ʼn aandeelhouersooreenkoms wat strydig is met die Maatskappyewet of die maatskappy se MvI, nietig. So ook, in terme van artikel 15(1) van die Maatskappyewet, is enige bepaling van ʼn maatskappy se MvI wat strydig is met die Maatskappyewet, nietig
In die saak van Verso Financial Services (Pty) Ltd v Burger en ander, het aandeelhouers gepoog om ʼn nuwe MvI vir hul maatskappy te onderhandel. Die maatskappy het op daardie stadium steeds die “ou” akte en statute in plek gehad, welke geag word ʼn maatskappy se MvI te wees vir solank dit nie herroep en vervang is nie. Daar was ook ʼn aandeelhouersooreenkoms in plek tussen die aandeelhouers. Die aandeelhouersooreenkoms het bepaal dat alle direkteure direk aangestel sou word deur die aandeelhouers. Die Maatskappyewet bepaal egter, in terme van artikel 66(4), dat minstens 50% van ʼn maatskappy se direkteure deur die aandeelhouers verkies moet word, en verder het die maatskappy se akte en statute bepaal dat alle direkteure verkies moet word deur die aandeelhouers. Die meerderheid aandeelhouers het beweeg en addisionele direkteure tot die direksie verkies, buite die bepalings van die aandeelhouersooreenkoms. Die minderheid aandeelhouers het hierteen kapsie gemaak, maar die Hof het beslis dat vir sover die aandeelhouersooreenkoms strydig is met die akte en statute en die Maatskappyewet, dit nietig is. Gevolglik kon die minderheid aandeelhouers nie die meerderheid verhoed om verdere direkteure tot die direksie te verkies nie, selfs al was hul aksies strydig met die aandeelhouersooreenkoms. As die direksie se wye bevoegdheid om maatskappy sake te bestuur en beheer in ag geneem word, kan die minderheid aandeelhouers se bekommernis goed begryp word.
In die saak van CDH Invest NV v Petrotank South Africa (Pty) Ltd, het die meerderheid direkteure gepoog om die aantal gemagtigde aandele van die maatskappy te verhoog. Die uiteindelike doel was om verdere aandele uit te reik, wat potensieel tot gevolg sou hê dat die minderheid aandeelhouers se persentasie aandeelhouding sou verwater. Ten einde die getal gemagtigde aandele te verhoog, was dit nodig om die maatskappy se MvI te wysig. Die aandeelhouersooreenkoms tussen die aandeelhouers het bepaal dat die MvI slegs gewysig kan word met ʼn 75% stem van aandeelhouers of direkteure, en op hierdie basis sou die minderheid aandeelhouers die verhoging in gemagtigde aandele kon verhoed. Die Maatskappyewet bepaal egter by artikel 36(3) dat die direkteure, by wyse van ʼn meerderheidstem, ʼn maatskappy se MvI kan wysig ten einde verdere aandele te magtig. Die direkteure se regte in hierdie verband kan beperk word deur so te bepaal in die maatskappy se MvI, maar in hierdie geval het die MvI spesifiek bepaal dat die direkteure se regte nie so beperk word nie. Die Hof het beslis dat die relevante klousule van die aandeelhouersooreenkoms, welke strydig is met die bepalings van die Maatskappyewet en die maatskappy se MvI, nietig is. Hoewel die verhoging in die getal gemagtigde aandele op ander gronde van die hand gewys is, kon die minderheid aandeelhouers nie daarin slaag om die verhoging in gemagtigde aandele te keer via die bepalings van die aandeelhouersooreenkoms nie.
Voormelde is maar twee voorbeelde van waar die bepalings van aandeelhouersooreenkomste nie afdwingbaar was nie. Die potensiële skade wat die aandeelhouers kon oploop in hierdie gevalle is voor die hand liggend.
ʼn Verdere voorbeeld is die kwessie rondom spesiale resolusies. Dit gebeur gereeld dat aandeelhouersooreenkomste bepaal dat sekere besluite nie geneem kan word sonder dat ʼn spesiale resolusie van die aandeelhouers daardie besluit magtig nie. In terme van artikel 65(11) van die Maatskappyewet is daar sowat 13 voorgeskrewe spesiale resolusies. Artikel 65(12) van die Maatskappywet bepaal egter dat verdere spesiale resolusies ten opsigte van ʼn Maatskappy kan geld, mits die maatskappy se MvI so bepaal. Gevolglik, as die uitsprake in die voormelde hofbeslissings in ag geneem word, sal die aandeelhouersooreenkoms se lys van addisionele spesiale resolusies nie afdwingbaar wees tensy die maatskappy se MvI ook bepaal dat daardie spesiale resolusies vereis word nie.
Ten einde te verseker dat alle terme ooreengekom tussen aandeelhouers wel bindend en afdwingbaar is, is dit uiters belangrik om te verseker dat die aandeelhouersooreenkoms en maatskappy se MvI met mekaar, en met die Maatskappyewet, belyn word.
Artikel geskryf deur:
Owen Kriek (Besturende Direkteur van OAK LAW)
info@oaklaw.co.za / 012 345 3761