“A lean compromise is better than a fat lawsuit” – George Herbert
‘n Groot meerderheid van kommersiële litigasie draai om die nakoming, oftewel nie-nakoming, van kontraktuele terme en voorwaardes. Soveel te meer is die oorsaak van duursame litigasie, onder andere gevalle waar ooreenkomste tussen kontrakspartye nie behoorlik verly is in ‘n bindende skriftelike ooreenkoms nie, waar sodanige ooreenkoms swak of dubbelsinnig opgestel is of waar die partye die essensiële terme en voorwaardes mondeling ooreengekom het.
Dit is gevolglik met genoegsame rede dat dit wys is om ‘n ooreenkoms wat beklink is, spreekwoordelik neer te pen op skrif. Die onvermydelike realiteit is dikwels dat as gevolg van beperkte hulpbronne soos tyd of bekommernis oor die kostes verbonde aan die optrek van ‘n ooreenkoms, partye weglaat om noukeurig te verseker dat hulle belange en regte beskerm word. Die vraag is gevolglik wat partye te doen staan wanneer daar ‘n dispuut is rondom prestasie in terme van ‘n mondelinge ooreenkoms of ooreenkomste wat nie in die tradisionele sin van die woord “opskrif” geplaas is nie.
Wanneer is ‘n ooreenkoms bindend?
- Wanneer ‘n aanbod of voorstel om te kontrakteer gemaak word, oftewel ‘n wilsverklaring deur een party aan ‘n ander party, wat prestasie aandui sowel as die bedinge op grond waarvan hy of sy die aanbod maak en die gevolglike aanname of aanvaarding deur die ander party, om in te stem tot die bedinge wat in die aanbod vervat word;
- Wilsooreenstemming en/of konsensus tussen die partye met betrekking tot die bedoeling van die partye dat ‘n ooreenkoms die gevolg van hulle handelinge sal wees;
- Die partye moet oor die nodige bevoegdheid beskik om te kontrakteer;
- Ooreenskomste moet geoorloof wees of andersyds nie teen die openbare beleid wees om afgedwing te word nie. Verder moet dit moontlik wees om die regte en verpligtinge in terme van die ooreenkoms te presteer.
- As ‘n algemene reël word geen formaliteite vir die totstandkoming van ‘n geldige kontrak vereis nie, tensy statutêre bepalings opskrifstelling van sekere ooreenkomste vereis (bv. Koopooreenkoms van roerende goed, testamente of ‘n huweliksvoorwaardekontrak);
- Remedies wat daarop gemik is om die kontrak te laat voortbestaan soos ‘n eis vir spesifieke nakoming, waarkragtens die Onskuldige Party om ‘n hofbevel aansoek doen wat die party in gebreke, dwing om sy of haar prestasie te lewer (bv. Betaling in terme van ‘n koopooreenkoms) of ‘n interdik, waarkragtens die Onskuldige Party by die hof om ‘n bevel aansoek doen ter voorkoming van kontrakbreuk wat nog nie gebeur het nie, maar dreigend is (bv. ‘n handelsbeperking af te dwing);
- Remedies wat op kansellering van ‘n ooreenkoms gemik is met die gevolg dat die ooreenkoms summier beëindig word;
- Remedies wat gemik is op vergoeding van die Onskuldige Party se verlies of skade wat deur die kontrakbreuk veroorsaak is (bv. ‘n eis vir verlies aan huurinkomste in die geval van versuim om ‘n huurperseel te ontruim of ‘n eis vir rente vir laat betaling).